Agt vas ná rits kapings in KZN
2012-11-06 17:17
Durban – Agt verdagtes is in verband met 'n rits kapings in Berea, Durban, in hegtenis geneem, het die KwaZulu-Natalse polisie gesê.
Die polisie het Maandag op 'n wenk reageer en 'n Dodge-bakkie by 'n huis in die gebied gevind. Die voertuig is Sondag in KwaDabeka gesteel," het kol. Jay Naicker gesê.
"Terwyl die polisie die verdagtes by die huis ingewag het, het 'n Volkswagen Polo met twee insittendes opgedaag.
"Die VW Polo is ondersoek en daar is gevind dat dit op Vrydag, 2 November in Umbilo gekaap is. Albei verdagtes is onmiddellik in hegtenis geneem."
Nog 'n man het in 'n Volkswagen Golf opgedaag en is deur die polisie in hegtenis geneem.
Die mans het die polisie na drie verdagtes by die Berea-winkelsentrum in die Musgrave-gebied geneem. 'n Sewende verdagte is vasgetrek terwyl die polisie besig was met die ondersoek by die winkelsentrum.
Polisiebeamptes het 'n ander motor, wat in Pinetown gekaap is, in Mariannhill gevind en die bestuurder in hegtenis geneem.
Een van die mans het 'n vuurwapen in sy besit gehad.
"Ons is oortuig dat hulle met ander kapings in die provinsie verbind kan word," het Naicker gesê.
Hy het gesê die mans, tussen die ouderdom van 20 en 40 jaar, sal binnekort in Durban se landdroshof op aanklagte van kaping en die besit van gesteelde goedere verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA