Agt sterf in Rouxville-ongeluk
2011-04-25 20:53
Bloemfontein - Agt mense, insluitende vyf kinders, het gesterf in ‘n ongeluk op die pad tussen Rouxville en Smithfield in die Vrystaat, het die polisie Maandag gesê.
Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het gesê die ongeluk het Maandag omstreeks 01:50 ongeveer tien kilometer buite Rouxville gebeur.
Volgens Mbambo was ‘n familie besig om hul voertuig van die pad af te stoot toe ‘n ander motor in hulle vasgery het.
Sy het gesê nege familielede – vier volwassenes en vyf kinders – het in ‘n Opel Kadett van Barkley-Oos af gereis om vir familie in Virginia te gaan kuier.
Hul motor het ‘n meganiese fout gehad en net buite Rouxville in die pad tot stilstand gekom.
‘n Ander motor, met twee passasiers, het toe in die groep mense wat die Opel van die pad af probeer stoot het, vasgery.
“Twee volwassenes – ‘n 45-jarige man en ‘n 42-jarige vrou – en vyf kinders – vier seuns van onderskeidelik een, ses, 10 en 11 jaar oud en ‘n agtjarige meisie – is op slag dood.”
Volgens Mbambo het die 38-jarige bestuurder van die motor wat in die groep vasgery het ook op die toneel gesterf nadat sy voertuig weens die impak aan die brand geslaan het.
Die ander passasiers wat by die ongeluk betrokke was, het oorleef.
‘n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA