Agt dorpe in VS dalk binnekort sonder krag
2010-10-21 09:02
Kroonstad – Altesaam 90% van die dorpe in die Noord-Vrystaat kan binnekort tot algehele stilstand geruk word as die kragreus Eskom sy dreigement deurvoer om kragverskaffing aan twee munisipaliteite weens agterstallige rekeninge van meer as R30 miljoen elk te staak.
Dié stap sal agt dorpe sonder krag laat.
Eskom Holdings het twee kennisgewings uitgereik oor ’n openbare deelnameproses rakende die moontlike afsny van elektrisiteitverskaffing aan die munisipaliteite Ngwathe en Moqhaka.
Ingevolge die ooreenkoms vir grootmaatverskaffing tussen Eskom en dié munisipaliteite is reeds bepaal dat indien betaling van ’n rekening nie binne 15 dae ná die betaaldatum geskied nie, Eskom die kragverskaffing kan staak met 14 dae kennisgewing en/of dié ooreenkoms beëindig.
Luidens die kennisgewing het die munisipaliteite nie daarin geslaag om die voorwaardes soos in dié ooreenkoms uiteengesit te eerbiedig nie. Hulle is tans elk meer as R32miljoen agterstallig.
Eskom sê ’n deel hiervan is al meer as 60 dae uitstaande. Die dorpe in die Moqhaka-munisipale gebied is Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus.
Sou die kragverskaffing aan Ngwathe gestop word, word Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville geraak.
Geskrewe kommentaar met ’n rede waarom Eskom moet of nie moet aangaan met die voorgestelde afsnyaksie nie, moet spoedig aan Eskom se kleinhandelbestuurder gerig word.
Mnr. Gerrit van Schalkwyk, voorsitter van die Moqhaka-belastingbetalers-en-inwonersvereniging (MBIV) op Kroonstad, maan inwoners om nie die kennisgewing van Eskom ligtelik te ag nie.
“Alle belanghebbendes se insette word dringend verlang in die openbare deelnameproses waarom die kragvoorsiening na Moqhaka (en Ngwathe) opgeskort moet word al dan nie.
“Inwoners het rede om ontevrede met die toedrag van sake te wees omdat hul krag dubbeld soveel kos as waarteen Eskom dit aan die Moqhaka-munisipaliteit voorsien,” sê Van Schalkwyk.
Volgens hom sal die MBIV namens sy lede ’n sterk saak uitmaak dat die elektrisiteit nie na verwagting op 23 November opgeskort mag word nie.
“Dit sou onbillik wees om teenoor inwoners te diskrimineer wat getrou hul elektrisiteitsheffing betaal en nie vir die wanbestuur, korrupsie en futiele finansiële beplanning van die Moqhaka-munisipaliteit verantwoordelik gehou kan word nie.”
Ook Jean Hattingh, VF+-raadslid op Kroonstad, meen inwoners moet betrokke raak omdat verbruikers “in die spervuur is en eindelik vir wanbestuur opdok en verontrief word”.
Inwoners op Koppies is reeds die josie in omdat ondernemings en wonings se krag voor die voet afgesny word omdat rekeninge glo agterstallig is.
Volgens Carina Serfontein, DA-takvoorsitter op Koppies, is geen voorafkennis oor dié afsnyaksie glo gegee nie.
Sommige beweer hulle ontvang al geruime tyd nie rekeninge nie.
Gerugte wil dit hê die Ngwathe-munisipaliteit bewimpel nou “allerhande planne” om geld in te kry.
Alle oë is gerig op die openbare deelnameproses wat die weg kan baan. Die sperdatum vir kommentaar is 8 November.
Eskom sê toevoer na die geraakte gebiede kan op 23 November beëindig word indien betaling van die betrokke owerhede nie betyds ontvang is nie.
- Volksblad