Agt buitelanders aangeval
2012-02-01 15:32
Johannesburg – Agt buitelanders is Woensdag in Doornkuil in ‘n aanval beseer, het Johannesburgse nooddienste gesê.
Vyf van die agt het kritieke beserings opgedoen.
“Hulle het geslaap toe sowat vyf jong mans met knopkieries en kolwe hul sinkhuis binnegegaan en hulle beroof en aangeval het. Hulle is baie erg geslaan,” het woordvoerder Robert Mulaudzi gesê.
Die mans is van Zimbabwe en Malawi afkomstig.
Hulle is omstreeks 02:00 aangeval en is per ambulans na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem.
Daar word vermoed dat die aanval met xenofobie verband hou, aangesien die mans vir ‘n boumaatskappy in die omgewing werk, het Mulaudzi gesê.
“Ons is nie seker of dit verband hou met xenofobie en of dit ‘n kriminele aktiwiteit was nie. Die polisie is in kennis gestel en ondersoek die voorval.”
In Mei 2008 is 62 mense doodgemaak en sowat 150 000 mense tydens xenofobiese betogings verplaas.
Die aanvallers het gewelddadig teen die teenwoordigheid van buitelanders in Suid-Afrika betoog en het onder andere beweer dat die buitelanders hulle van werk ontneem.
Die polisie kon nie onmiddellik die aanval bevestig nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA