Agt beseer in ongeluk
2009-07-17 12:45
Durban – Agt mense is beseer en nóg sewe is gestrand ná die taxi waarin hulle gereis het, teen die heining op die hoofweg gebots het.
Die ongeluk het Vrydagoggend omstreeks 06:20 in Pioneerstraat, Fields Hill, plaasgevind.
Dit is nie duidelik hoe die ongeluk gebeur het nie, maar daar was geen ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.
Mnr. Derrick Banks, woordvoerder van ER24, het gesê het taxi het dalk te vinnig om die draai gekom en beheer oor die voertuig verloor.
“Van die insittendes het buite die taxi gelê en ander het rondgeloop. Ses mense het van ernstige rug- en nekbeserings gekla en een persoon se arm is gebreek.”
Volgens Banks is die mense op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale in die gebied geneem.
“Die ander pendelaars is ondersoek, maar wou nie hospital toe gaan nie.”
Verkeer in die gebied is ook ontwrig omdat een baan vir verkeer gesluit was.