AgriSA kap regering voor boer se begrafnis
2011-02-24 08:16
Bloemfontein - AgriSA is teleurgesteld dat die ANC te midde van die vlaag plaasmoorde hom steeds by Julius Malema oor die sing van die omstrede sing van die woorde “Skiet die Boer” skaar.
Dié uitspraak van Johannes Möller, president van AgriSA, het Woensdag gekom voor die begrafnis Donderdag van die Vrystaatse boer, Helgard Muller (66) van Frankfort.
“Ek is gefrustreerd dat dié gruweldade waaraan landbouers blootgestel word, nie as ’n prioriteitsmisdaad met alles wat die staat tot sy beskikking het, beveg kan word nie,” sê Möller.
Hy het Dinsdag met die afsluiting van AgriSA se beleidskonferensie op Somerset-Wes plaasmoorde as ’n brandpunt uitgelig wat suksesvol deur die regering gepak moet word.
Theo Coetzee, DA-LP en dié party se kiesafdelingshoof in Fezile Dabi, sê die moord op Muller wys die regering sukkel om reg en orde in Suid-Afrika te handhaaf en burgers te beskerm.
Hy het gekap na Life Mokone, woordvoerder van die Vrystaatse LUR van landbou en landelike ontwikkeling, Msebenzi Zwane.
Mokone het vroeër aan Volksblad gesê as daar inderdaad ’n gewisse gesamentlike poging bestaan om boere uit te wis, sal die LUR ’n kommissie van ondersoek hierna instel.
Hy sal dit egter nie doen as dit net normale misdadige optrede blyk te wees nie.
Volgens Coetzee bevestig Mokone se uitspraak die ANC se onbereidwilligheid om die burgers van die land te beskerm teen misdadigers en moordenaars en ’n veilige woonomgewing te verseker.
“Die statistieke wys duidelik dat boere en hul werknemers bo enige ander landsburgers geteiken word.”
Volgens hom het dit tyd geword dat pres. Jacob Zuma en sy regering aanspreeklikheid vir plaasmoorde aanvaar. Coetzee sê die herontplooiing van die weermag op grense moet ook gepaardgaan met stappe om die polisie se vermoë te versterk om misdaad in Suid-Afrika te bekamp.
Muller is Saterdag op die plaas Mara in die Frankfort-distrik in die kop geskiet en is op pad na die hospitaal oorlede. Hy word Donderdag om 12:00 uit die Gereformeerde kerk Frankfort begrawe.
- Volksblad