‘Agri SA moet om verskoning vra’
2010-08-03 09:46
Harare - Die georganiseerde landbou in Suid-Afrika was gister rooi van woede oor die naweek se plaaswerkersberaad in Somerset-Wes en het dit as blatante politiekery en rugstekery afgemaak.
Die komitee wat die beraad gereël het, het geëis dat Agri SA om verskoning vra omdat hy uit die beraad gestap het.
Ben Marais, president van TLU SA, het hier op die kongres van Zimbabwe se Commercial Farmers’s Union (CFU) gesê TLU SA het ’n sterk bewoorde protesbrief aan Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gestuur.
Agri SA se afvaardiging, gelei deur Johannes Möller, sy president, het Saterdag uitgestap.
Agri SA het gesê geen van sy insette is in enige van die resolusies vervat nie en dit is duidelik dat die uitkomste van die beraad belyn is met vooraf opgestelde politieke standpunte wat nie verband hou met werklikhede op plaasvlak nie.
Chris van Zyl, ’n adjunk-hoofbestuurder van TLU SA, het uit Pretoria gesê dié organisasie was, soos Agri SA, deel van die reëlingskomitee van die beraad en het insette gelewer op die provinsiale berade. “Ons is nie eens ’n spreekbeurt gegee soos vooraf ooreengekom nie. Ek was deel van daardie komitee waar besluit is ons sou ’n spreekbeurt hê.
Die organiseerders van die beraad het in ’n verklaring gesê Agri SA se optrede was nie net onbeleefd en onprofessioneel nie, maar ook ongevraagd omdat Agri SA geleenthede gehad het om sy besware teen die resolusies te opper.
Hy het Agri SA ook daarvan beskuldig dat hy boere wil verdedig wat hul plaaswerkers swak behandel. “Die beraad was ’n suksesvolle oefening en dit het aan uitgebuite plaaswerkers die geleentheid gegee om hul griewe te lug.”
Die organiseerders het TLU SA en die National Farmers’ Union bedank dat hulle tot aan die einde die kongres bygewoon het.
- Volksblad