Agri SA het plan teen misdaad
2010-04-26 09:11
Charles Smith, Volksblad
Bloemfontein - Agri SA gaan die bul by die horings pak om die veiligheid op plase te verbeter. ’n Plan hiervoor gaan volgende maand afgekondig word, sê Johannes Möller, Agri SA se president.
Möller, wat verlede week erken het boere se samewerking met veiligheidsplanne is nie na wense nie, wou nie die besonderhede van die projek op die Vrystaatse Jongboerkongres hier bekend maak nie, maar het gesê daar gaan groter samewerking met die polisie en die regering wees.
“Mense moet besef hulle bly in ’n doen-dit-self-land. Doen dit dan self. Kom ons kyk na die gebrek aan veiligheid, misdaad, korrupsie. Kom ons pak die bul by die horings.
“Ons is besig om dit te doen. Van volgende maand gaan jy die reaksie begin sien, veral ten opsigte van veiligheid.”
Möller het ook gesê die Grondwet moet ten alle koste beskerm word. Boere moet gehoorsaam wees aan die wette van die land.
Möller het gesê die politieke bewustheid in Suid-Afrika ontwikkel vinniger as die sosiale sofistikasie.
Verwagtinge groei vinniger as die ekonomie. As dit gebeur, kom die land êrens by ’n punt waar politici herverdeling verkondig as wyse om te voldoen aan die groeiende politieke verwagtinge.
“Ons moet besef ons moet ’n rol daarin speel om Suid-Afrika vinniger te laat groei as wat die mense se verwagtinge is.”
Nóg ’n uitdaging is Suid-Afrika se mense se verskoon-my-dat-ek-lewe-houding. “Ons moet ophou daarmee. Ek gaan nie verskoning vra dat ek ’n boer is nie. Ek gaan nie meer verskoning vra vir die verlede nie. Dis afgehandel en dit is verby.
“Ek verwag nie van mense om verskoning te maak en te sê: ‘Ek is maar net ’n arme ou swartetjie, ek is maar net iemand met ’n gutter education, ek behoort eintlik die een of ander toelating te kry’ nie.
“Dis onsin. Ons moet onderneem, ons moet groei, ons moet wedywer. Ons moet meer produktief raak in plaas daarvan dat ons verskoning vra dat ons lewe.
“Daarmee saam ook die gebrek aan ’n institusionele geheue wat tot gevolg het dat ons politici gedurig mompel oor die verlede in plaas daarvan om hulle te bemoei met die toekoms.”