Agri SA gaan saam praat oor hervorming
2010-07-01 09:47
Beeld
Agri SA, die grootste landbou-organisasie in die land, sê hy en sy lede gaan met alle erns aan die konsultasieproses oor grondhervorming deelneem.
Die organisasie, waarvan die leierskorps Dinsdag in Centurion oor die saak vergader het, sê alles dui daarop dat die staat ’n al hoe groter rol in die grondmark wil speel.
Die staat hoop om op dié manier wesenlike veranderings in die patroon van grondeienaarskap teweeg te bring.
Neels Ferreira, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer, het Woensdagmiddag in ’n verklaring gesê die verwagte beleidsvoorstelle gaan die huidige batestruktuur van die kommersiële landbou ten nouste raak.
Daarom is die uitkoms van die beleidshersieningsproses vir elke boer en deelnemer aan die landbou, maar ook vir die verbruikers wat staatmaak op die bedryf se vermoë om voedselsekerheid te verseker, van wesenlike belang.
Agri SA sê ’n voorlegging oor die konsepbeleid is verlede week aan hom gedoen toe hy Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondsake, en dr. Joe Phaala, die adjunkminister, ontmoet het.
Die groenskrif sal na verwagting later vandeesmaand in die parlement ter tafel gelê word.
Agri SA sê van die voorstelle handel oor beperkings op private grondbesit, ’n reg op eerste weiering ten gunste van die staat wanneer grond te koop aangebied word, vennootskappe op staatsgrond, die regulering van grondbesit deur buitelanders en ’n
nuwe wetsontwerp op grondbesit.
“Agri SA verskil nie met die regering oor die noodsaak vir grondhervorming nie, maar het wel kommer oor bepaalde aspekte van die groenskrif wat negatief ervaar sal word.
Daarom gaan ons op ’n konstruktiewe wyse aan die konsultasieproses deelneem en voorstelle doen oor moontlike alternatiewe benaderings,” het Ferreira gesê.
Vir dié doel het Agri SA ’n aantal werkgroepe in die lewe geroep. Eksterne deskundigheid sal ook betrek en regsmenings ingewin word.
Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het onlangs ’n beroering in landboukringe veroorsaak toe sy gesê het die ANC ondersoek ’n aandeleskema vir swart boere om die beginsel van gewillige verkoper/koper te vervang.
Pro-Agri Forum, ’n organisasie wat bestaan uit boere wat al die wedstryd vir die boer van die jaar gewen het, het vandeesweek bekend gemaak hy hoop om Agri SA, die National Farmers’ Union en TLU SA byeen te bring sodat die georganiseerde landbou uit een mond kan praat oor onder meer grondhervorming.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld