Agliotti word ontmasker
2009-10-13 16:16
Johannesburg - Glenn Agliotti, veroordeelde dwelmhandelaar, het in die Johannesburgse hooggeregshof erken dat hy 'n arbeidsmakelaar vir misdadigers was.
Agliotti het Dinsdag in die korrupsieverhoor van die voormalige polisiehoof, Jackie Selebi getuig dat hy in samewerking met die vermoorde mynmagnaat Brett Kebble, sy vennoot John Stratton en hul sekerheidshoofde Paul Stemmet en Clinton Nassif, telkemale bewyse teen mense gefabriseer het wat tot hul vervolging gelei het.
Hy het ook bevestig dat hy Stemmet aan 'n vriend voorgestel het wat 'n "probleem" met iemand in die Kaap gehad het.
"Stemmet en van sy assistente het dwelms in die persoon se huis geplant. Hy het die polisie in kennis gestel en die man is in hegtenis geneem en gevonnis vir dwelmhandel," het adv. Jaap Cilliers, Selebi se regsverteenwoordiger, gesê.
Agliotti het dié feite bevestig.
Regter Meyer Joffe het gesê hoewel hy nie by dié saak betrokke kan raak nie, ondersoek hierin gestel moet word.
Agliotti het ook bevestig dat hy saam met Kebble by onwettige tabak-transaksies in Zimbabwe betrokke was.
Cilliers het ook verwys na Agliotti se pleitooreenkoms wat hy gemaak het toe hy in 2006 tydens 'n klopjag in Alberton in Johannesburg in hegtenis geneem is. Die polisie het beslag gelê op hasjisj met 'n straatwaarde van R200 miljoen.
Hy het skuldig gepleit op aanklag van dwelmhandel en is tronkstraf van 10 jaar, opgeskort vir vyf jaar en 'n boete van R300 000 opgelê, in ruil vir getuienis vir die staat teen sy beweerde medepligtiges. Hy moes ook R200 000 in die Rekening vir Verhaling van Kriminele Bates betaal.
Op die vraag of daar "talle ander sake" is wat die Direktoraat vir Spesiale Ondersoeke teen hom kan bring as hulle wou, het Agliotti gesê net die "Empire K" kan teen hom gebring word.
Die "Empire K" is die ondersoek na die Kebble-gesin se saketransaksies.
"Wel, die Empire K is gelykstaande aan 'n grootskaalse ondersoek na bedrog wat miljoene rande beloop," het Agliotti gesê.
Agliotti is in 2006 in hegtenis geneem vir die moord op Kebble. Sy verhoor begin volgende jaar.
– Sapa