Agliotti ‘soek sy geld by Kebble’
2010-07-29 06:43
Johannesburg. - Die aand van die eerste poging om Brett Kebble dood te skiet, het Glenn Agliotti tydens ’n manne-aand (boys night out) vreeslik baie oproepe gekry en die ete in die middel van sy hoofgereg verlaat.
Hy het later gesê Kebble skuld hom geld en dat hy dit wou uitsorteer, het Alexi Christopher, ’n restauranteur van Johannesburg, gister hier in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Agliotti se moordverhoor getuig.
Daar is vroeër in die verhoor getuig Agliotti was in beheer van die betaling van R2 miljoen deur Kebble aan sy moordenaars.
Christopher het getuig hy en Agliotti het vriende geword nadat een van sy werknemers in Agliotti se eksvrou, Vivienne, se motor vasgery het.
Hulle was deel van ’n groep vriende wat Maandagaande in sy restaurant geëet het.
“Glenn het talle oproepe, tien of meer, gekry en ek het gevra wat gaan aan. Hy het gesê dit is Brett wat hom bel en hy het in die middel van sy hoofgereg gesê hy gaan nou eers na Brett toe.
“Hy het hom later weer by ons aangesluit, dié keer in die ontkleeklub The Lounge. Hy het gesê Brett skuld hom a bit of money en hy wou dit uitsorteer,” het Christopher getuig.
Christopher het ook gesê Clinton Nassif, die man wat na bewering Mikey Schultz opdrag gegee het om Kebble te vermoor, het die aand nadat Agliotti vir die moord in hegtenis geneem is, gevra hy moet Vivienne Agliotti bel, omdat hy met haar wou praat.
Christopher het getuig hy het nie geweet waaroor Nassif met haar wou praat nie en het ook niks gehoor wat hulle bespreek het nadat hulle haar laataand in ’n parkade ontmoet het nie.
Adv. Laurance Hodes, Agliotti se regsverteenwoordiger, het in die hof gesê Christopher het beslis geweet.
Volgens hom moes Vivienne ’n boodskap na Agliotti in die tronk neem dat hy Nassif se regsverteenwoordiger, Tamo Vink, moes gebruik sodat “hul stories kan ooreenstem”.
Hodes: “Jy het Viv die volgende dag gebel om uit te vind wat Agliotti se antwoord was. Daar is telefoonrekords daarvan.”
Christopher: “Wel, as daar rekords is, het ek haar seker gebel. Ek kan nie onthou nie.”
Hodes: “Sy het vir jou gesê jy moet my bel en jy het dit nooit gedoen nie. Jy het daarna alle kontak met Agliotti verbreek, omdat hy nie wou saamspeel nie.”
Christopher: “My verbintenis met die Kebbles en Agliotti is weens die moord op Brett.”
Hodes: “Jy het ’n dubbele rol gespeel. Jy was vriende met die Kebbles en vriende met die moordenaars. Jy wou die groot meneer wees wat die dinge wou uitsorteer.”
Regter Frans Kgomo: “Christopher, wat Hodes sê, is dat jy ’n tweegatjakkals is.”
Christopher: “Ek het saam met die Kebbles grootgeword. As kinders was ons bure in Welkom. My verbintenis lê by hulle en daarom het ek nie weer met Agliotti kontak gemaak nie.”
- Die Burger