Agliotti kry uitstel tot Julie
2010-02-03 15:25
Johannesburg – Die saak teen Glenn Agliotti in die moordsaak van die mynmagnaat Brett Kebble, is Woensdag tot 26 Julie in die Johannesburgse hooggeregshof uitgestel.
Die staat en verdediging het ooreengestem dat dit in die belang van geregtigheid is, dat die verhoor van die gewese polisiekommissaris, Jackie Selebi, eers afgehandel moet word.
Agliotti is die staatsgetuie in Selebi se korrupsieverhoor.
Gerrie Nel, staatsaanklaer het gesê dit sal moeilik wees om Agliotti se saak te finaliseer voordat Selebi se verhoor op 1 Maart weer hervat word.
Agliotti kan dalk weer geroep word om in Selebi se verhoor te getuig, en indien altwee sake aan die gang is, kan die hofdatums dalk met mekaar oorvleuel.
Regter Frans Kgomo het aangedui dat dit die finale uitstel sal wees.
Agliotti, ‘n veroordeelde dwelmhandelaar, word daarvan beskuldig dat hy Kebble in September 2005 vermoor het.
Sy medepligtige, John Stratton, moet nog deur Australië uitgelewer word sodat hy ook aangekla kan word.
- Sapa