Agliotti het glo geld gehou
2009-10-13 12:54
Johannesburg - Die verdediging het die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld wat vir die voormalige polisiehoof Jackie Selebi bedoel was, in sy eie sak gesteek het .
Adv. Jaap Cilliers, Selebi se regsverteenwoordiger, het tydens Agliotti se kruisverhoor in die Johannesburgse hoogeregshof gesê Selebi was 'n slagoffer van iemand wat omkoopgeld in sy eie sak steek.
Cilliers het aangevoer dat Agliotti 'n "konsultasiefooi" van tussen R12 miljoen en R13 miljoen aanvaar het om die vermoorde mynmagnaat Brett Kebble en sy kennisse in kontak met Selebi te plaas.
"As jy wel aan Kebble en [John] Stratton gesê het jy kan die beskuldigde omkoop, het hulle die geld vir jou gegee en het jy die grootste gedeelte daarvan vir jouself gehou," het Cilliers gesê.
"Die verskil is dat ek nooit gesê het dat ek die beskuldigde omgekoop het nie, maar ja," het Agliotti gesê.
Cilliers het gesê Selebi se weergawe was dat Agliotti nooit vir hom geld gegee het nie.
"Ja, dit is sy weergawe," het Agliotti, geklee in 'n donker pak en ligblou das, gesê.
Cilliers het gesê dit is in Agliotti se belang om dié bewering te ontken want as hy dít sou erken, sou dit beteken dat hy nie 'n ooreenkoms met die Skerpioene kon aangaan nie.
Agliotti word gevrywaar van enige klagte wat verband hou met die Selebi-saak as hy al die vrae eerlik en reguit beantwoord in die Skerpioene se ondersoek.
"Dit is uiters belangrik dat jy aan die hof sê dat jy wel iets aan die beskuldigde betaal het."
"'n Gedeelte, ek het nie gesê alles nie," het Agliotti gesê.
Hy het egter ontken dat die betaling die basis van sy ooreenkoms met die Skerpioene was.
- Sapa