Afwesige LP's dalk gou beboet
2011-07-14 07:08
Kaapstad - Parlementslede wat stokkiesdraai, kan binnekort beboet word óf selfs hul setels in die Nasionale Vergadering (NV) verloor.
Ook politieke partye sal moet opdok as die meeste van hul LP’s sonder ’n geldige verskoning afwesig is en dit die parlement verhinder om oor dringende sake te stem omdat daar nie ’n kworum in die NV of in portefeuljekomitees is nie.
Dié voorstelle is vervat in ’n besprekingsdokument van die NV waarin politieke partye gevra word om bydraes vir ’n parlementêre verlofbeleid te lewer. Daar is tans geen parlementêre reëls of strafmaatreëls vir lakse LP’s wat voortdurend afwesig is nie, terwyl hul jaarlikse salarisse net oor die R800 000 elk beloop.
Luidens die besprekingsdokument moet R500 van ’n LP se salaris afgetrek word vir elke dag wat die lid sonder verlof afwesig is en sal die LP sy setel in die NV verloor as hy of sy vir 30 opeenvolgende sittings afwesig is. ’n Lid wat drie opeenvolgende komiteevergaderings sonder ’n geldige rede misloop, sal ’n soortgelyke boete opgelê word en uit die komitee ontslaan word.
Voorts word voorgestel politieke partye moet met tot R5 000 elk beboet word wanneer die meeste van hul LP’s afwesig is en die NV nie ’n kworum het om oor wetgewing te stem nie. ’n Boete van R1 000 word voorgestel in soortgelyke gevalle waar portefeuljekomitees nie ’n kworum het nie.
Politieke partye het Woensdag erken dit is moeilik om LP’s deurgaans “op te pas” en dat diegene met geen pligsbesef nie, wel ’n manier sal vind om lyf weg te steek.
Die oop banke is veral smiddae met sittings van die NV opmerklik. Sommige LP’s loop sodra hul pienk aanwesigheidsvorms onderteken is. Ander sit openlik en slaap of is doenig met hul selfone.
Daar was op 24 Maart só min LP’s in die Huis (’n skamele 169 van die 400) dat die NV nie oor die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Stelsels kon stem nie.
Die ANC, Cope en VF+ verwelkom die besprekingsdokument, maar die DA en die ACDP meen só ’n beleid sal die meerderheidsparty te veel seggenskap gee oor hoe opposisiepartye hul LP’s moet bestuur.
Volgens Ian Davidson, DA-hoofsweep, het die DA ’n “uiters doeltreffende” stelsel om hul LP’s se werkverrigting te monitor en is hul koukus gedissiplineerd. “Dis die ANC-LP’s wat nie hul werk doen nie. Hulle moet nie húl probleem ons s’n maak nie.”
Dr. Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep, het dit ontken. “Dis nie ’n ANC-probleem nie, maar ’n algemene probleem onder LP’s.”
Ook Juli Kilian, Cope-sweep, meen dit kan nie net aan politieke partye oorgelaat word om LP’s se verlof te hanteer nie, omdat parlementslede ’n grondwetlike plig teenoor kiesers en die parlement het.
- Volksblad