‘Afrikaans se plek by US is in onderrig’
2009-12-10 07:31
Jan Gerber
Stellenbosch - Afrikaans het ’n “duidelik kwantifiseerbare vaste plek” aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Dit is volgens prof. Magda Fourie, die US se viserektor, onderrig. ’n Onlangse raadsbesluit was dat die US vir die afsienbare toekoms (2010-’13) ’n voorgraadse Afrikaanse onderrigaanbod van minstens 60% sal handhaaf.
Dit beteken ook dat die US-bestuur “hom verbind tot die voorsiening van hierdie Afrikaanse onderrigaanbod vir die vermelde tydperk”, het sy gesê.
Dié stelling kom aan die vooraand van die US se jaarlikse konvokasievergadering, waar die omstredenheid rondom Afrikaans aan die universiteit na verwagting onder bespreking gaan wees. Die vergadering vind om 19:00 in die D.F. Malansentrum plaas.
Fourie het verduidelik dat die raadsbesluit op praktiese vlak beteken “dat die US in 2010 aan Afrikaanstalige voorgraadse studente die geleentheid bied om ongeveer 60% van hul onderrigaanbod in hul moedertaal te ontvang, terwyl hulle ook die geleentheid het om hul Engelse taalvaardighede te verbeter.
“Vir studente wat Engels as huistaal of skooltaal het, bied die US die geleentheid om in 2010 ongeveer 48% van hul onderrig in Engels te ontvang.”
Hierdie persentasie is van toepassing op nege van die universiteit se fakulteite, met krygskunde as uitsondering. Studente word aangeraai om ’n deeglike studie te maak van die taalspesifikasies vir die modules waarvoor hulle sal inskryf, soos vervat in die fakulteite se jaarboeke, om die onderrigtaalaanbod vir hul spesifieke kursus te bereken.
Die infasering en uitbreiding van parallelmedium-onderrig in die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, natuurwetenskappe, agri-wetenskappe en ingenieurswese in 2010 vereis dat meer doserende personeellede in daardie fakulteite aangestel word om bykomende groepe studente afsonderlik in Afrikaans en Engels te onderrig.
Fakulteite voorsien ook uitbreiding in doseer-assistente en tutors om studente die geleentheid te gee om in kleiner groepe vakkundige inhoude in hul voorkeurtaal (Afrikaans, Engels en in sommige gevalle Xhosa) te bespreek.
Die US-raad het ook op die vergadering “R42 miljoen vir die finansiering van onderrigtaal en taalontwikkeling in die breë” in sy voorlopige begroting aanvaar.
“Hierdie geld word aangewend vir die aanstelling van bykomende doseerpersoneel en tutors, vir die voorsiening van taalontwikkelingskursusse, finansiering van die Taalsentrum, die voorsiening en herinrigting van fasiliteite om geskik te wees vir die toepassing van die meertalige onderrigmodel,” het Fourie gesê.
- Die Burger