Afrikaans, Engels 'moet uit volkslied'
2012-09-20 07:15
Johannesburg – Die Afrikaanse en Engelse dele moet uit Suid-Afrika se nasionale lied verwyder word, het die polisievakbond Popcru voorgestel.
Dié voorstel is vervat in Cosatu se voorlopige beleidsdokumente wat hy dalk Donderdag op sy nasionale kongres in Midrand gaan oorweeg, het Die Burger berig.
Volgens Popcru is “Die Stem” “direk teenstrydig” met “Nkosi Sikelel’ iAfrika” en wat dit vir Afrikane beteken, en daarom moet die Afrikaanse en Engelse dele uit Suid-Afrika se nasionale lied verwyder word.
Tydens die Codesa-onderhandelings in die vroeë negentigerjare is daar besluit om die Afrikaanse en Engelse dele by die nasionale lied in te sluit as ’n kompromie, lui die dokument.
“Die nasionale lied moet terug verander word na sy oorspronklike vorm. Die nasionale lied moet die stryd wat ons toekomstige aspirasies rig, verteenwoordig.”
“Die Stem” is onversoenbaar met Enoch Sontonga se oorspronklike weergawe van “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, voer Popcru aan.
“‘Nkosi Sikelel’ iAfrika’ is vandag nog ’n belangrike deel van die werkers se stryd en moet die enigste Suid-Afrikaanse nasionale lied wees.”
Prof. Marinus Wiechers, ’n grondwetkenner, het gesê dit sal egter teen die gees van die Grondwet indruis.
Nkosinathi Theledi, sekretaris-generaal van Popcru, wou nie kommentaar lewer oor die voorstel nie.
– Volg Nuus24 op Twitter