Afriforum wil Nestlé boikot
2009-09-30 16:07
Johannesburg - Afriforum doen ‘n beroep op verbruikers om Nestlé-produkte te boikot indien hulle nie ophou om melk van Grace Mugabe se suiwelplaas te koop nie.
Kallie Kriel, Afriforum se woordvoerder, het luidens ’n verklaring gesê hulle sal Nestlé-produkte boikot as die land nie ophou om “bloedmelk” van Robert Mugabe se vrou se suiwelplaas teen 7 Oktober te koop nie.
Kriel het gesê Afriforum het ‘n webwerf gestig wat foto’s, videogrepe en inligting insluit oor die “wreedheid waarmee die Mugabe-bewind die mense van Zimbabwe onderdruk”.
Die webwerf sluit ‘n skakel in wat gebruik kan word om klagtes na die kantoor in Suid-Afrika, Zimbabwe en Switserland te stuur.
Hy het gesê die briewe is na Nestlé gestuur om die onderneming van burgergroep se stappe in te lig.
Afriforum gaan ook ‘n versoek aan alle menseregte-organisasies rig om druk op die multinasionale onderneming te plaas.
Hy het gesê die onderneming is ‘n verskoning aan Zimbabwe se inwoners verskuldig.
Ravi Pillay, Nestlé se woordvoerder het gesê hulle het nog geen formele kennisgewing van die veldtog ontvang nie en kan daarom geen kommentaar lewer nie.
Grace Mugabe het na bewering ses van die land se mees waardevolle plase wat deur blankes besit was, in 2002 oorgeneem. Die plase verkoop miljoene liter melk per jaar aan Nestlé.
Sy, haar man en nog lede van die administrasie is onderwerp aan sanksies van die Europese Unie en Amerika weens hul kontroversiële 29-jaar-bewind oor Zimbabwe.
Nestlé, die multinasionale voedselonderneming wat die grootse verbruiker van suiwelprodukte is, is nie verplig om gehoor te gee aan die sanksies in die hoofkantoor van Switserland nie.
Nestlé dring daarop aan dat hulle geen Switserse wette gebreek het nie.
- Sapa