Afriforum soek Malema-antwoorde
2009-11-10 10:32
Johannesburg - Die burgerregte-inisiatief, Afriforum gaan ‘n skriftelike versoek aan Nathi Mthetwa, minister van polisie, rig waarin hulle redes gaan versoek vir Julius Malema, ANC-jeugleier, se duur BBP-polisie beskerming.
“Kragtens die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, kan 'n persoon of persone wat geraak word deur administratiewe optrede van enigeen in 'n besluitnemingsposisie, skriftelik aansoek doen om redes vir die beslissing. Die aansoeker kan dan op grond van die redes wat voorsien word, 'n hersieningsaansoek teen die besluit by 'n hooggeregshof bring indien dit blyk dat die redes ontoereikend is.” het Willie Spies, prokureur van Afriforum gesê.
Spies het gesê die belastingbetalende publiek het ‘n reg om te weet hoekom die leier van die ANC se jeugliga staatsgefinansierde BBP-beskerming nodig het.
Die besluitnemer wat BBP-beskerming tot Malema se beskikking gestel het, moes ten minste geleentheid vir publieke deelname aan die besluitnemingsproses gegee het, het Spies gesê.
"Mnr. Malema is nie een ‘n publieke figuur nie. Verlede jaar is BBP-beskerming van Mosiuoa Lekota, Cope-leier onmiddellik opgeskort toe hy as minister en lid van die parlement bedank het,” het Spies gesê.
“Die normale Suid-Afrikaner moet op ‘n daaglikse basis sonder enige vorm van beskerming klaarkom, terwyl hulle blootgestel word aan hoë vlakke van geweldsmisdade by hul woon- en werksplek.”
Sodra redes ontvang is, sal Afriforum besluit oor moontlike geregtelike hersiening van die Malema-besluit.
Mediaberigte die afgelope naweek het gesê Malema se beskerming sal ongeveer R300 000 per maand kos.
- Sapa