Pretoria: Afriforum dreig met regsaksie oor naam
2011-11-22 15:42
Johannesburg – Die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag ’n prokureursbrief aan die minister van kuns en kultuur gestuur om hom te waarsku om nie gehoor te gee aan pogings van die burgemeester van die plaaslike metroraad, Sputla Ramakgopa, om die naam van Pretoria na Tshwane te verander nie.
Dit volg nadat Ramakgopa Maandag in Mamelodi buite Pretoria aangekondig het dat die metroraad geen koste sal ontsien om Pretoria se naam na Tshwane te verander nie.
AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het in ’n verklaring gesê die organisasie het reeds vier jaar gelede, in Augustus 2007, ’n interdik teen die stadsraad se pogings gekry om die naam Tshwane op naamborde rondom die stad te gebruik.
Die metroraad het voorheen ’n aansoek by die Nasionale Pleknaamraad ingedien om die naam Tshwane as geografiese naam vir die hele regsgebied van die metroraad te registreer.
Sedert die aansoek destyds ingedien is, het die grense van die Tshwane-metroraad verander om Cullinan, Bronkhorstspruit en Rayton in te sluit. Die hele noordelike helfte van Gauteng staan nou as die Tshwane-metroraad bekend.
“Dit maak eenvoudig nie sin om nou aan Pretoria, wat maar een van ’n verskeidenheid plekname binne ’n reuse- munisipale gebied is, ’n nuwe naam te gee nie,” het Spies gesê.
AfriForum het reeds verlede jaar ’n brief aan die minister van kuns en kultuur gestuur om hom in kennis te stel dat enige poging om die naam Tshwane te proklameer, met ’n hofaansoek begroet sal word.
Volg Nuus24 op Twitter.
– Nuus24