AfriForum veg vir Pretoria
2010-02-02 05:45
Johannesburg - Die burgerregte-inisiatief AfriForum het beloof om elke denkbare wetlike stap te neem om te verseker dat Pretoria sy naam behou.
“AfriForum sal Dinsdag met senior-advokate in Pretoria ontmoet om te bepaal watter stappe geneem kan word om te verseker dat die registrasie van die naam Tshwane opsy gesit kan word,” het Kallie Kriel, hoof- uitvoerende beampte van AfriForum, Maandag in ‘n verklaring gesê.
Lulu Xingwana, minister van kuns en kultuur, het Tshwane gebruik as benaming vir Pretoria in ‘n onlangse uitgawe van die Government Gazette.
AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, is van mening dat Xingwana se optrede getuig van ‘blatante kwaadwilligheid’.
Die minister se kantoor kon nie vir kommentaar bereik word nie.
– Sapa