AfriForum stem saam oor Bono en 'Boer'
2011-02-14 09:00
Louise Ferreira en Sapa-AFP
Johannesburg – Bono steun nie Julius Malema se standpunt oor vryheidsliedjies nie, maar wys hom eintlik tereg.
“Bono sê daar is ’n plek vir bevrydingsliedjies en dat dit dom is om dit in die openbaar te sing as dit kan aanstoot gee. Dis eintlik die punt wat AfriForum probeer maak,” het Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, gesê.
’n Herrie het losgebars toe Bono, hoofsanger van die popgroep U2, luidens ’n berig in die Sunday Times gesê het liedjies soos die omstrede “kill the Boer” is aanvaarbaar. AfriForum het Malema, leier van die ANC-jeugliga, vroeër van haatspraak aangekla oor sy sing van dié lied.
Bono het verwys na rebelleliedjies van sy kinderjare oor die Ierse bevrydingstryd. Hy het bygevoeg dis “taamlik dom” om sulke musiek binne ’n sekere gemeenskap te sing.
“Dit gaan oor waar en wanneer jy daardie soort liedjies sing.”
Steve Hofmeyr het teen Bono se woorde uitgevaar. “’n Multi-biljoenêr- armchair revolutionary wat dink hy’s die nuwe millennium se Che (Guevara) is presies wat Afrika nie nodig het nie. Ek bly ’n bewonderaar van sy musiek, maar saam met Malema sal hy van nou af uit die dooie oë van plaasboere na my kyk.”
Hofmeyr het op sy Facebook-blad geskryf hy het sy kaartjies vir U2 se konsert in die Jukskeirivier gesmyt.
Spies het beklemtoon hul standpunt is dis onverantwoordelik om “oorlogsliedjies uit die verlede te gebruik om nuwe konflik en spanningslyne te vestig”.
Diane Coetzer, Suid-Afrikaanse korrespondent vir die Amerikaanse musiektydskrif Billboard, meen die aanhaling is verkeerd aangebied.
Coetzer was Vrydagaand by die rondetafel-geleentheid by ENB-stadion waar Bono met joernaliste gesels het.
“Bono is om sy mening gevra oor ’n ‘omstrede liedjie’. Hy het geantwoord ‘bedoel jy Malema?’ Die joernalis het dit bevestig, waarop Bono net gesê het ‘interessant’.
“Hy het toe nostalgies geraak oor die Ierse vryheidsliedjies wat hulle destyds gesing het.
“In geen stadium het hy gesê: ‘Ek ondersteun Malema se reg om hierdie liedjie te sing’ nie.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld