AfriForum hof toe oor plaasmoorde
2012-11-28 11:51
Kaapstad – AfriForum het in ‘n verklaring gesê hy gaan Pretoria se hooggeregshof nader vir toestemming om volgende naweek met sy optog teen plaasmoorde voort te gaan.
Dit volg nadat die Tshwane-metropolisie aanvanklik aangedui het dat hulle geen beswaar teen die voorgenome optog het nie, maar later gesê het “topbestuur” weier om toestemming vir die optog te gee.
Luidens die verslag het die “drama” ontwikkel nadat Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van die burgerregtegroep, vir Zweli Mnisi, kommunikasiebeampte van die polisiedepartement, gekontak het, om te reël dat ‘n verteenwoordiger van die polisie ‘n versoekskrif van optog-deelnemers in ontvangs neem.
Mnisi het egter tydens die gesprek aan Roets te kenne gegee dat hy ’n stokkie voor die beplande optog gaan steek.
Volgens Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, waarborg artikel 17 van die grondwet as ’n basiese mensereg die reg van alle burgers om te demonstreer, optogte te hou en versoekskrifte te oorhandig.
“Die metropolisie se skielike weiering om die byeenkoms toe te laat, kom dus as ’n verrassing,” lui die verklaring.
Verskeie bekende Suid-Afrikaners, waaronder Steve Hofmeyr, het reeds aangedui dat hulle aan dié optog gaan deelneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24