AfriForum hof toe oor Pretoria-straatname
2012-12-13 07:47
Kaapstad – Die burgerregte-groep AfriForum het Donderdag gesê hy het ’n dagvaarding teen die Tshwane-metroraad uitgereik waarin die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gevra word om die verandering van 27 straatname in Pretoria te hersien en tersyde te stel.
'n Verklaring wat deur die groep uitgereik is sê die besluit is geneem nadat versoeke van AfriForum om met die burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, in gesprek te tree oor ’n oplossing vir die naamkwessie, op dowe ore geval het.
"AfriForum het vroeër vanjaar gepoog om ’n interdik te verkry teen die verandering van naamborde van strate hangende die afhandeling van ’n hersieningsaansoek, maar die hof het destyds beslis dat ’n reëling, wat behels dat ou straatname saam met die nuwe name op naamborde behou word tot na die afhandeling van die hersieningsproses, voldoende was," het die verklaring gelui.
"Ramokgopa het laat verlede jaar met verskeie politieke partye, asook AfriForum, in gesprek getree oor die vind van ’n wen-wen-oplossing oor die naam van Pretoria en sekere straatname. Sonder om die gesprekke af te handel, of te reageer op voorstelle van partye, het die metroraad egter in April vanjaar voortgegaan met die verandering van 27 strate se name."
AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het gesê AfriForum het besluit om ’n aksie-prosedure eerder as ’n aansoekprosedure in die beoogde hersieningsproses te volg.
“Daar is twee redes daarvoor. Eerstens voorsien ons aansienlike feite-dispute oor die verloop van die straatnaamproses wat nou reeds sedert 2007 aan die gang is, en in die tweede plek glo ons dat die tyd aangebreek het dat raadsamptenare en ANC-politici in ’n ope hof ondervra en kruisondervra word oor presies wat hulle laat besluit het om die name van 27 strate met groot koste te verander, terwyl verskeie ander raadsfunksies en -dienste agterweë bly," het Spies luidens die verklaring gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24