AfriForum gereed om stryd oor lied verder te voer
2011-09-23 08:03
Johannesburg - AfriForum is vol vertroue dat die appèlhof ook in sy guns sal bevind in die haatspraaksaak teen Julius Malema.
Só het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Donderdag gesê nadat verlof tot appèl toegestaan is aan Malema, ANC-jeugleier, om te appelleer teen die gelykheidshof se bevinding dat die lied met die woorde “skiet die Boer” haatspraak is.
Regter Colin Lamont het Donderdag in dié hof gesê sy uitspraak is van uiterse sosiale belang en dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander gevolgtrekking kan kom.
“Ons het reeds twee hofsake teen Malema gewen en is vol vertroue dat ons dit vir ’n derde keer in die appèlhof en selfs ’n vierde keer in die konstitusionele hof kan regkry,” het Kriel ná die beslissing buite die hof gesê.
Die ANC het die beslissing by monde van Jackson Mthembu, woordvoerder, verwelkom.
“Helde van die gewapende stryd het geen monument wat aan hulle hulde bring nie. Ons liedere bly ons enigste simboliese monumente.
“Om die mense daarvan te ontneem, is om letterlik die grafte van (Walter) Sisulu, (Albert) Luthuli en ander onbesonge helde te skend.”
Die appèlhof sal die saak tussen Malema en die ANC enersyds en AfriForum en TLUSA andersyds na verwagting eers volgende jaar aanhoor.
Adv. Muzi Sikhakhane, regsverteenwoordiger van Malema en die ANC, het gesê hulle beoog steeds om die konstitusionele hof oor die bevinding te nader.
Lamont het ook gelas dat AfriForum ’n maand gegun word om op enige punte in die uitspraak te appelleer, sou hulle dit goeddink.
Adv. Roelof du Plessis, vir TLUSA, het gedurende die hofverrigtinge sy misnoeë te kenne gegee omdat sekere mediagroepe Lamont as rassisties uitgemaak het.
“Ons beoog om stappe soos minagting van die hof en laster teen dié individue aanhangig te maak,” het hy gesê.
Du Plessis het ook benadruk dat hoewel AfriForum oorspronklik gevra het dat Malema verbied word om die lied te sing, het TLUSA gevra vir ’n interdik om almal te verbied om dit te sing. Dit is wel wat Lamont gelas het.
Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het ná Lamont se bevinding gesê: “Die ideaal sou wees as die ANC hom by dié uitspraak kan berus.”
Die burgerregte-organisasie is egter nie verras dat verlof tot appèl toegestaan is nie.
“Ons is bly vir die geleentheid om die uitspraak ook van nader te bekyk. Indien ons dit goeddink, kan ons dan ook op strategiese punte appelleer.”
Kriel het gesê hul regspan is gereed om die oorspronklike bevinding te verdedig.
Volgens hom is die ANC se redenasie dat dié lied deel van hul geskiedenis uitmaak, irrelevant ten opsigte van die gelykheidswet wat self deur die ANC deurgevoer is.
“Die wet verbied enigiemand om rassistiese aanmerkings te maak. Jy kan nie omdraai en sê jy het dit nooit bedoel nie. Soos die regter bevind het: Dit gaan oor hoe die persoon wat dit aanhoor die aanmerking beleef en nie oor die persoon wat dit uiter nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger