AfriForum dien klag in teen Shaik
2009-12-20 14:40
Johannesburg – Die burgerregte-organisasie AfriForum het Sondag ‘n klag by die paroolraad aanhangig gemaak teen die bedrieër Schabir Shaik nadat hy glo op kamera vasgevang word waar hy sy paroolvoorwaardes verbreek.
“Die klag dat Shaik sy paroolvoorwaardes oortree het kom ná die soveelste mediaberig dat hy rondry en selfs inkopies doen in tye wat nie toegelaat word volgens sy paroolvoorwaardes nie,” het Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.
Rapport het Sondag berig dat Shaik, wat op mediese parool is en glo nege maande gelede “in die finale fase van ’n terminale siekte” was, gesien is waar hy ‘n Durbanse meenthuiskompleks besoek en by ‘n supermark inkopies doen.
Dit word nie volgens sy paroolvoorwaardes toegelaat nie.
Volgens Bailey stuur Shaik se klaarblyklike verontagsaming van sy paroolvoorwaardes ‘n baie ontstellende boodskap oor die oppergesag van die wet in Suid-Afrika.
“Die aksies van iemand wat parool onder twyfelagtige omstandighede gekry het, moet te alle tye bo verdenking bly. In Shaik se geval, sien ons presies die teenoorgestelde.”
Sy het gesê in ‘n tyd wat misdaad hoogty vier en kriminele geen agting vir die gereg het nie, is dit belangrik dat daar streng aksie geneem word teen enige persoon wat paroolvoorwaardes verbreek. “Dit sal beklemtoon dat niemand verhewe is bo die gereg nie.”
‘n Kopie van AfriForum se klag is ook aan minister van korrektiewe dienste, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gestuur.
Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê Mapisa-Nqakula het nou geen verskoning om nie Shaik se parool te hersien nie.
“In die lig van onweerlegbare bewyse, moet Shaik se vrylating op mediese parool geherevalueer word, want hy maak ‘n bespotting van die paroolsisteem in die geheel,” het James Selfe, DA-woordvoerder oor korrektiewe dienste gesê.
- Sapa