AfriForum beveg Malema in grondwethof
2011-10-16 14:54
Kaapstad – Die burgerregte-organisasie AfriForum het Sondag in 'n verklaring gesê hy gaan Malema en die ANC se aansoek om appèl in die konstitusionele hof oor die sing van die liedjie “Dubula Ibhunu” teenstaan.
"Hofstukke ter ondersteuning van AfriForum se opposisie teen Malema se aansoek om direkte verlof na die grondwethof, is Vrydag by die hof ingedien en by die prokureurs van Malema, die ANC en TLU-SA afgelewer," lui die verklaring.
Malema en die ANC vra die konstitusionele hof om op ’n dringende basis uitsluitsel oor die status van die haatliedjie te gee omdat ANC-ondersteuners glo van plan is om die liedjie in Januarie aanstaande jaar tydens ANC-feesvieringe te sing.
Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het in sy reaksie gesê die ANC se besluit om haatliedjies uit die struggle-era goed te praat en te verdedig, het ’n kultuur van haat vaardig gemaak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24