'AfriForum bedreig demokrasie in SA'
2011-04-17 08:00
Llewellyn Prince en Hanri Wondergem
Johannesburg - AfriForum probeer die demokrasie in Suid-Afrika met sy hofsaak teen die leier van die ANC-jeugliga ondergrawe.
So sê die jeugliga in die besprekingsdokumente vir sy 24ste nasionale kongres wat van 16 tot 20 Junie in Johannesburg gehou word.
Die hofsaak oor Julius Malema se gereelde die openbare gesing van liedere soos Ayesab’ amagwala (Zoeloe vir “Lafaards is bang”) waarin die frase “skiet die Boer” (“dubula iBhunu”) voorkom, het die afgelope week vir groot drama gesorg toe Malema met veiligheidswagte en honderde ondersteuners by die hooggeregshof in Johannesburg opgedaag het.
Vrydag is krete soos “Kill the Boer” en “Kill AfriForum” luidkeels deur Malema-ondersteuners buite die hof uitbasuin, terwyl regter Colin Lamont hofverrigtinge moes vertraag om hofgangers te bedaar wat hardop gemompel, gesug of gefluit het.
Dít terwyl Derek Hanekom, adjunkminister van wetenskap en tegnologie, getuig het.
Hanekom het namens die ANC, wat saam met Malema ’n respondent is, onder meer getuig die betrokke lied is ’n viering van vryheid en kan nie as haatspraak of aanhitsing gesien word nie. “Die woord ‘Boer’ verwys nie na ’n individu of ’n groep mense nie, maar na die stelsel van apartheid wat mense onderdruk het.”
Hanekom is van mening dat AfriForum en die ANC in gesprek moet tree om hul verskille te bespreek.
Intussen sê die jeugliga in sy kongresdokumente hy sal aanhou baklei vir die behoud en voortdurende gebruik van struggle-liedere, sowel as vir die nasionalisering van die myne, grondonteiening en die transformasie van die media.
“Die onlangse gebeure waarin AfriForum die hof versoek dat ’n strydlied verbied word, laat die gevaarligte flikker oor die verwerping van die instrumente wat gebruik is vir politieke bevryding en die geskiedenis wat ’n hedendaagse werklikheid bly, soos uitgebeeld in die geweldige sosiale en ekonomiese ongelykhede tussen die swart massas en wit minderheid,” meen die jeugliga.
Luidens die dokument kan die doelwitte van die Vryheidsmanifes slegs verwesenlik word as die regering “private eiendom, veral grond en myne, sonder vergoeding vir herverspreiding onder die swart meerderheid onteien”.
Die jeugliga wil hê die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper in grondhervorming moet ook heroorweeg word omdat hervorming te stadig gebeur.
Daar word ook voorgestel dat wetgewing alle grond in Suid-Afrika staatseiendom maak.
Hiervolgens sal grondeienaars aansoek moet doen om lisensies om hul grond verder te gebruik.
“’n Maksimum van 30 jaar huur kan op alle grond in besit van private korporasies en individue geplaas word. Die regering kan dit onteien as dit gebruik word vir iets anders as waarom aansoek gedoen is.”
Nog ’n voorstel is dat ander strategiese sektore in die ekonomie, soos die metaal-, bank-, energie-, produksie- en telekommunikasiebedryf, sonder vergoeding onteien word.
- Rapport