Plaaswerkers: Afleggings begin in Limpopo
2013-02-05 13:18
Kaapstad – Die eerste 730 plaaswerkers van Limpopo ontvang reeds kennisgewings van afleggings, het Agri SA gesê.
Boere van die Magoebaskloof- en George’s Valley-omgewing het Maandagaand vergader om die situasie te bespreek betreffende die nuwe minimum loon vir plaaswerkers en wat hulle te doen staan, berig Landbou.com.
Mildred Oliphant, minister van arbeid, het Maandagmiddag 'n nuwe minimum loon vir plaaswerkers bekendgemaak ná wydverspreide stakings in veral die Wes-Kaap vroeër vanjaar en aan die einde van 2012.
Die nuwe minimum loon is vasgestel op R105 per dag, of R525 per week, wat neerkom op ongeveer R11,66 per uur. Dit is 'n maandelikse salaris van R2274,82. Die bedrag sal van 1 Maart van krag wees.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, het gesê 730 werkers ontvang reeds kennisgewings van afleggings.
Die meeste van dié werkers is heeltydse werkers en van hulle werk al tot 35 jaar by boere. De Jager sê dit is vir die boere baie moeilik om dié stap te neem, maar hulle is genoodsaak om ekonomiese besluite te neem.
“Baie boere is in ’n staat van depressie en hulle is woedend oor die nuwe loon.”
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter