Advokaat vloek sommer regter se ma
2011-03-30 11:25
Kaapstad – 'n Advokaat het verlede week 'n regter in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgevloek nadat hy gevra is hoekom hy laat was vir die saak, het The Star Woensdag berig.
Adv. Nehemiah Ballem het verlede week uitgevaar teenoor regter Lee Bozalek.
Luidens die hoftranskrip het Ballem aan die regter gesê: "Jou ma se p–s man, f–k jou!"
Dit was nadat die regter hom gevra het hoekom hy nie Vrydagoggend opgedaag het vir die saak nie.
Ballem het gesê hy het probleme gehad met sy motor en 'n boodskap gelos het. Hy het toe gesê dat "ek nou hier is".
Die regter wou weet hoe die advokaat kon probeer het om 'n telefoniese versoek om uitstel van die saak te maak.
Ballem het ergerlik geword met die vra en in 'n stadium gesê: "Ek is nie jou kind nie," en "Jy maak net wat jy wil. Maak wat jy wil."
Die regter het toe geantwoord: "U maak u seil baie naby aan die wind."
Ballem het toe uitgevaar teenoor Lee en uit die hof gestorm.
Tlali Tlali, woordvoerder van die departement van justisie, het gesê hy sal in 'n latere stadium kommentaar lewer.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA