Advokaat in sop oor f-woord
2012-01-24 07:00
Bloemfontein – 'n Bekende advokaat wat onder meer die f-woord in ’n verhoor in die Vrystaatse hooggeregshof gebruik het, is ernstig op die vingers getik en gewaarsku dat hy van die verhoor verbied sal word as hy hom nie gedra nie.
Regter S. Ebrahim het Maandag aan adv. Terry Price, bekende Baaise advokaat, gesê sy is stomgeslaan oor sy gedrag. Sy sal hom by sy balie in die Oos-Kaap verkla, as hy dit herhaal.
Terwyl dr. Stefan Jansen van Vuuren, ’n patoloog, in kruisondervraging van Price getuig het, het hy by die regter gekla dat hy Price hoor sê het: “Dit is f****n irriterend.”
Price het verskoning gevra en gesê dit was slegs vir die ore van sy opdraggewende prokureur, Nico Naudé, bedoel.
Dit was nie teen Jansen van Vuuren gemik nie, maar teen die stem van die tolk, Donald Nthoba, skuins agter hom.
Regter Ebrahim het die verhoor laat afstaan. Later was sy terug met die opdrag van die waarnemende regterpresident om hom te waarsku. Sy het ook gesê dat sy opgelet het dat hy in die vorige sitting aan adv. Adam Mohlala, vir die staat, gesê het: “Bly stil en sit.”
Hy was ook tevore minagtend in ’n aansoek om insae tot ’n lêer van die staat te kry. “As jy nie die verrigtinge respekteer nie en jouself nie op ’n respekvolle wyse gedra nie, sal jy van die verhoor verbied word. Ek stel voor jy gedra jou op ’n wyse wat jou posisie as regsverteenwoordiger vir die verdediging pas.”
Nthoba het toe skuins voor Price getolk en Price was blykbaar minder geïrriteerd.
Price tree vir twee Bloemfonteinse boere, Nicolaas van Aswegen (38) en Louis Maree (68), op. Hulle ontken dat hulle Chankie Botsane, ’n onwettige jagter, in 2010 vermoor het.
Hulle ontken ook dat hulle Lechesa Motsie aangerand, ’n vuurwapen op hom gerig en hulle aan saakbeskadiging skuldig gemaak het deur Botsane se hond dood te skiet.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad