Absa se baas vaar ook uit teen ANC
2012-04-05 07:05
Johannesburg – ’n Sakeleier van nóg ’n groot bankgroep het die ANC-regering gekritiseer vir die manier waarop hy die land regeer.
“Ons het sekerheid nodig oor die beleidsraamwerk. Ons kan nie eindelose debatte of nóg ’n voorgenome plan bekostig nie,” het Garth Griffin, voorsitter van Absa Groep en Absa Bank, in die bank se jongste jaarverslag gesê.
Onsekerheid is nie goed vir ekonomiese groei nie en Suid-Afrika, met sy hoë werkloosheidsyfer en groeiende ongelykhede, kan dit nie bekostig nie, het hy gesê.
“Dit is die regering se plig om ’n raamwerk daar te stel waarin die talente van 50 miljoen Suid-Afrikaners ingespan kan word tot almal se voordeel.”
Die land het regeringsleierskap nodig om langtermyngroei in Suid-Afrika moontlik te maak, het hy gesê.
Dit kom kort nadat Reuel Khoza, voorsitter van Nedbank, verlede week gesê het Suid-Afrika se leiers “kan nie lei nie”.
Suid-Afrika se demokrasie word bedreig deur ’n “vreemde soort” politieke leierskorps wat nie die eise van regeerkunde en leierskap kan hanteer nie, het hy gesê.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het eergisteraand op ’n mediakonferensie in Luthuli-huis teen Khoza en ander sakeleiers uitgevaar wat die regering kritiseer: “Khoza is reeds lankal deur sy hoofaandeelhouer aangesê om Nedbank te verkoop.
“Hy het twee keer daarin misluk, watter soort leier is dit?”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld