Absa ontken massa-afleggings
2012-03-29 13:04
Johannesburg – Absa het Donderdag bewerings ontken dat hy 3 000 van sy werkers afgedank het.
“Absa bevestig daar is geen massa-aflegging wat by die maatskappy plaasvind nie,” het die bank in ‘n verklaring gesê.
“Absa het en sal voortgaan om sy stelsels en prosesse te ontwikkel, wat soms lei tot baie beperkte werkverliese. Ons sal dit doen soos wat verlede jaar gesien is met die vermindering van 3 580 rolle en afleggings wat beperk is tot 145.”
Woordvoerder Ajith Bridgraj sê Absa se amptelike vakbond, die Finansiesvakbond, is tydens die proses geraadpleeg en die maatskappy het die ooreengekome beginsels en prosedures gevolg wat in ooreenstemming is met die beste praktyk en regulasies van arbeidsverhoudinge.
Die vakbond Solidariteit het Woensdag gesê sommige van Absa se werknemers is na ‘n kantoor ingeroep en daar is glo aan hulle gesê daar is nie plek vir hulle in die maatskappy se nuwe struktuur nie.
“Daar is ‘n boks aan hulle gegee en hulle is na hul kantore vergesel om persoonlike besittings op te pak, waarna hulle ten aanskoue van hul kollegas soos misdadigers uit die gebou vergesel is. Sommige was in trane toe hul toegangskaarte by hulle afgeneem is,” het Solidariteit op sy webwerf gesê.
Absa het in reaksie op hierdie verklaring gesê terwyl die proses nie lekker is nie, moet die maatskappy sy stelsels en sensitiewe inligting beskerm.
“Weens die sensitiwiteit van die situasie en die feit dat werkers hul toegangskaarte moet inhandig, is sommige uit die gebou vergesel,” het die maatskappy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA