Aardbewing naby SA het land aan gons
2011-01-25 11:21
Kaapstad – Sosiale netwerke soos Twitter was Dinsdagoggend aan die gons oor die nuus van 'n aardbewing wat naby Port Elizabeth en Kaapstad sou tref.
'n Twitter-gebruiker, GlamGlitterz, het geskryf: “Nogal skrikwekkend. 'n Aardbewing gaan SA blykbaar slaan, 2123 km van PE af en op pad Kaap toe. Nie goeie nuus nie!"
Geoloë het bevreesdes egter gou gesus en bekend gemaak dat die aardbewing, wat 5.0 op die Richterskaal registreer het, 2130 km van die kus van suidelike Afrika plaasgevind het en 10km diep was.
Craig Smith van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika het gesê daar is slegs sowat 10 tot 20 aardbewings rondom die Indiese Oseaan per jaar en gegewe die afstand en diepte het Suid-Afrikaners niks om oor bekommerd te wees nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24