Aanvaller vermoor ma van kleuter
2011-09-08 18:56
Johannesburg – Die ma van ‘n tweejarige meisie wat vroeër vanjaar deur haar pa ontvoer is, is Donderdagoggend doodgeskiet in Mount Edgecombe, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.
“Ek kan bevestig dat Cathering Krog (28) doodgeskiet is nadat ‘n man die agterdeur van haar huis oopforseer het,” het kapt. Thulani Zwane gesê.
Die moordenaar het toe selfmoord gepleeg deur homself in die kop te skiet.
Volgens Zwane was ‘n manlike familielid van Krog in dié stadium in die huis, maar is nie beseer nie.
Zwane kon nie gerugte bevestig dat die tweede lyk dié van haar vervreemde kêrel, Clint Walley, was nie. Walley is in Januarie in hegtenis geneem vir die ontvoering van hul tweejarige dogter, Isabella. Hy het haar 11 dae lank by hom gehou.
- SAPA