Aanklagte teen Mdluli teruggetrek
2011-12-14 12:30
Pretoria – Die aanklagte van korrupsie en bedrog teen lt.genl. Richard Mdluli, geskorste misdaadintelligensiehoof van die polisie, is Woensdag in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdaad in Pretoria voorwaardelik teruggetrek.
"Die aanklagte moes in die eerste plek nooit daar wees nie. Daar is iemand wat iewers met my baklei, ek weet nie wie dit is nie," het Mdluli ná sy vlugtige hofverskyning gesê.
Geen rede is in die hof aangevoer vir die besluit om die aanklagte voorwaardelik terug te trek nie. Die aanklagte hou verband met die aankope van twee voertuie vir sy eenheid.
Mdluli het homself in September aan owerhede oorgegee nadat nuwe aanklagte van bedrog en korrupsie teen hom gebring is.
Die aanklagte teen Hannes Barnard, Mdluli se medebeskuldigde, is ook teruggetrek.
Barnard wou nie die media te woord staan nie.
Mdluli en drie ander word in 'n ander saak vir hul betrokkenheid by 'n dekade oue moordsaak verhoor.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA