Aanklagte laat vaar teen mans wat speaker glo skiet
2012-02-01 15:32
Johannesburg – Aanklagte van moord teen vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die speaker van die Mbombela-munisipaliteit, Jimmy Mohlala, doodgeskiet het, is voorwaardelik teruggetrek, het die nasionale vervolgingsgesag Woensdag gesê.
“Nadat ons met getuies gepraat het, het ons gevoel dat daar onvoldoende bewyse is om voort te gaan met ‘n verhoor en daar is geen voortuitsig van ‘n suksesvolle vervolging nie,” het woordvoerder Mthunzi Mhaga gesê.
“Ons het (Maandag) besluit om die saak voorwaardelik terug te trek totdat die polisie meer bewyse kan vind.”
Hy het bygevoeg dat die staat, wat oorspronklik besluit het om die mans op grond van bewyse wat ingesamel is te vervolg, besluit het om die saak te laat vaar nadat onderhoude met getuies gevoer is in die aanloop tot die verhoor.
Mohlala is in Januarie 2009 buite sy huis doodgeskiet nadat hy onreëlmatighede in tenders uitgewys het.
Die tenders is uitgereik vir die bou van die R1 miljard Mbombela-stadion in Nelspruit vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Mohlala se vrou Bonny het Dinsdag aan The Sowetan gesê sy is nie verbaas dat die aanklagte laat vaar is nie.
“Ek kan nie sê dat ek geskok is dat dit teruggetrek is nie... Ek moet erken dat ek voorheen gesê het die polisie het moontlik die verkeerde mense in hegtenis geneem, maar ek wil dit nie nou herhaal nie, aangesien dit kan voorkom asof ek weet wie die regte misdadigers is.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA