Aanklaers sê Modimolle-verkragting was beplan
2012-01-13 14:45
Johannesburg – Die aanklaers in die “Modimolle-monster” se saak het bewerings verwerp dat die drie werkers gehuur en gedwing is om ‘n vrou om die beurt te verkrag.
Die aanklaers meen die werkers het ingestem om Johan Kotzé se vervreemde vrou te verkrag.
Kotzé (50) en ‘n medebeskuldigde het Vrydag in die Modimolle-landdroshof verskyn en staan tereg op 17 aanklagte, waaronder moord, sameswering tot verkragting, verkragtig, seksuele aanranding, ontvoering en aanranding.
Die senior aanklaer Renier van Rooyen sê alhoewel berigte beweer dat die werkers gedreig is om die aanval uit te voer, het die slagoffer se verklaring ‘n ander storie vertel, het Eyewitness News berig.
“As ek die verklaring deur die klaagster lees, lyk dit nie asof hulle (die drie werkers) gedwing is nie, alhoewel daar ‘n vuurwapen was. Die vuurwapen is nooit op hulle gerig nie,” het Van Rooyen gesê.
Van Rooyen sê dit blyk dat die aanval noukeurig beplan is.
Lees meer hier
Volg Nuus24 op Twitter