Aanklaer, 2 kinders in huis beroof
2011-07-06 07:05
Bloemfontein - 'n Aanklaer van Bloemfontein het die angel van misdaad aan haar lyf gevoel toe sy in haar huis in Heuwelsig, Bloemfontein, deur vier gewapende rowers oorval, met pepersproei gespuit en van juwele, ’n selfoon en R600 kontant beroof is.
Boonop moes sy ná die aanval self na die polisiekantoor gaan, omdat die polisie nie met haar noodoproep die telefoon geantwoord het nie.
Staatsadvokaat Nabilla Soomaroo (40), haar seuntjie en broerskind het Donderdag vroegaand televisie gekyk toe hul hond histeries begin blaf het.
Sy sê sy het die kinders gestuur om te gaan kyk waarom die hond so blaf, maar hulle het teruggekom en gesê daar is niemand nie.
Nie eers tien minute later nie het twee gewapende mans, wat vermoedelik toegang deur die waskamerdeur gekry het, in die televisiekamer ingekom.
’n Minuut later het nog twee gewapende mans die huishulp ingebring en almal op die vloer laat lê.
Hulle is toe met pepersproei gespuit en kon skaars asemhaal.
Twee van die mans het hulle met wapens aangehou en die ander twee het die huis ingevaar.
Die gewapende rowers het haar vir die sleutels van die kluis, geld, juweliersware en ’n selfoon gevra.
Sy sê hulle het haar aanhoudend gevra waar haar man, adv. Bishum Soomaroo, is.
“Ek het ten alle tye kalm gebly en aan hul eise gehoor gegee, omdat ek weet waartoe hulle in staat is.”
Sy sê twee van die gewapende mans het haar slaapkamer, in hul soektog na die kluis, geplunder.
Hulle is toe deur die gewapende rowers in die bidkamer in die huis toegesluit.
Nadat die rowers weg is en hulle uit die bidkamer kon kom, moes sy na die polisiekantoor in Bayswater ry, omdat die polisie nie hul foon geantwoord het nie.
Sy sê haar bure het haar ná die rooftog ingelig daar was enkele dae tevore ’n verdagte voertuig met mans buite haar huis.
Soomaroo sê sy wil nou ’n buurtwag in haar woonbuurt begin.
Die vier gewapende rowers, wat die bure se hek en die hangslot gebreek het en só toegang tot haar huis gekry het, is steeds op vrye voet.
’n Klag van huisroof word deur die polisie ondersoek, sê kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder.
- Volksblad