AWB-ondersteuners kom saam buite hof
2012-01-30 10:00
Ventersdorp – ‘n Klein groepie AWB-ondersteuners het Maandagoggend buite die hooggeregshof op Ventersdorp saamgekom.
Die groep, geklee in khaki-uniforms, het gewag vir die verhoor van twee plaaswerkers wat daarvan beskuldig word dat hulle die verregse leier Eugene Terre'Blanche vermoor het.
Motors is met AWB-kleure en vlae versier en die groep het Afrikaanse musiek, insluitende die omstrede lied "De La Rey", gespeel.
Die saak is in Oktober verlede jaar uitgestel.
Chris Mahlangu en ‘n jeugdige is daarvan aangekla dat hulle die voormalige AWB-leier in April 2010 in sy plaashuis in Noordwes vermoor het.
Albei het onskuldig gepleit op moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede.
Mahlangu beweer dat hy in selfverdediging opgetree het. Die tiener ontken betrokkenheid in die misdaad.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA