AWB drom buite hof saam
2010-04-06 09:00
Ventersdorp – Die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) het Dinsdag ‘n beroep op president Jacob Zuma gedoen om die leier van die ANC-jeugliga (ANCYL) se rassistiese aanmerkings stop te sit.
“Ons wil hê Jacob Zuma moet Julius Malema stop want hy is besig om ‘n revolusie te veroorsaak. Malema maak die hele tyd ophitsende en rassistiese aanmerkings...dit veroorsaak rassehaat,” het Pieter Steyn, AWB-woordvoerder, gesê.
Steyn het met die media gepraat buite die landdroshof in Ventersdrop waar die twee verdagtes wat van Eugene Terre’Blanche se dood verdink word Dinsdag sal verskyn.
Volgens Steyn is daar sedert 2004 reeds 2000 boere op hulle plase vermoor. “Die aanvalle was spesifiek op die boere gerig en is ‘n tipe van grondonteiening.
“Ons eis nou dat Zuma beheer vat. Die ANC is in beheer van die land, so nou moet hulle dit regeer.”
Die AWB is van mening dat hulle voormalige leier se dood nie weens ‘n dispuut oor lone was nie. “Mens gebruik nie ‘n panga om hierdie tipe probleme op te los.
“Hierdie is eenvoudig ‘n politieke moord.”
Die AWB het vorige verklarings waarin hulle glo gedreig het om die dood van Terre’Blanche te wreek, teruggetrek.
“Die persoon wat daardie stelling gemaak het, was baie naby aan Terre’Blanche gewees en het heelwat emosionele stres ervaar.”
Steyn het gesê die party het vertroue in die land se regstelsel en die polisie se ondersoek is “puik”.
Minder as 100 AWB-lede, sommiges in hulle khaki-uniforms, het Dinsdagoggend omstreeks 08:00 buite die landdroshof saamgedrom.
“Ons verwag baie mense. Daar sal geen onrus wees nie. Ons sal ons lede onder beheer hou.”
– Sapa
– Is jy op die toneel? Stuur vir ons jou foto's na fotos@nuus24.com, of skryf vir ons wat jy dink oor die situasie en rig dit aan terugvoer@nuus24.com.