ASA kraak oor Semenya
2009-09-19 06:45
Krake begin nou wys in die skip van Atletiek Suid-Afrika (ASA).
Dit kom ná nog verdoemende bewyse dat die organisasie meer oor die Caster Semenya-sage weet as wat hy tot nou toe voorgegee het.
Mnr. Rishi Hansrajh, lid van ASA se padhardlopersvereniging en sameroeper van ASA se tugkomitee, het gister bedank, terwyl minstens drie raadslede – wat gevra het om anoniem te bly – aangedui het hulle gaan bedank omdat hulle genoeg gehad van al die “leuens oor die Se-menya-sage”.
Volgens Hansrajh is ASA se vergadering by verlede week se SA veldloopbyeenkoms in Pretoria mislei.
Hy het gesê die inligting wat mnr. Leonard Chuene, beleërde president van ASA, en die bestuur van ASA op dié vergadering oorgedra het, strook glad nie met dit wat in die media onthul is nie.
Die krake kom nadat die Mail & Guardian gister bevestig het wat Beeld ’n week gelede onthul het – dat ASA se grootbase voor die Wêreld-atletiekbyeenkoms in Berlyn, waar Semenya die goue medalje in die 800?m vir vroue gebuit het, die 18-jarige Tukkie-atleet vir geslagstoetse na ’n Pretoriase hospitaal gestuur het.
Mnr. Molatelo Malehopo, uitvoerende hoof van ASA, het eergisteraand nog ten sterkste aan Sapa-AFP ontken hy weet van enige toetse wat in Suid-Afrika op Semenya gedoen is. Chuene het dit ook deurentyd ontken.
Die Mail?&?Guardian het ’n afskrif gepubliseer van ’n e-pos wat Malehopo aan dr. Harold Adams, ASA-spandokter, op 5 Augustus gestuur het waarin hy vra daar moet voortgegaan word met die toetse wat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) versoek het.
Onderaan dié e-pos skryf Adams aan Malehopo hy stel voor ASA moet die mening van ’n ginekoloog kry. Sy tweede voorstel was dat ASA niks doen nie en wag en sien wat by die Wêreldbyeenkoms gebeur, en hy sal die kwessie hanteer as dit in Berlyn ter sprake kom.
’n Afskrif van dié e-pos is aan Chuene gestuur.
Adams het glo in Berlyn probeer om Chuene te oortuig om Semenya aan die byeenkoms te onttrek.
Beeld het verlede week onthul Semenya het op 7 Augustus geslagstoetse in Pretoria ondergaan.
Chuene hou vanoggend by die Nasionale Persklub in Pretoria ’n mediakonferensie. Beeld het vasgestel Chuene sal halsstarrig aan sy pos bly klou, maar “verskoning vra vir ASA se optrede”.
Wat Chuene ook al gaan sê, gaan verreikende gevolge vir ASA inhou, het ’n ASA-raadslid gesê.
Die oudstapatleet Chris Britz, ’n visevoorsitter van ASA, het gesê die ASA-vergadering het sy steun aan Chuene toegesê op grond van die inligting wat Chuene aan hulle gegee het oor wat in Berlyn gebeur het.
Geen besluite is oor die geslagstoetse op Semenya geneem nie omdat dié saak volgens hulle sub judicewas nadat mnr. Makhenkesi Stofile, minister van sport en ontspanning, ’n ondersoek na die aangeleentheid gelas het.
Gerugte dat mnr. Lamine Diack, president van die IAAF, vandeesweek in die land was om met Stofile te praat, is volgens me. Lerato Mogorosi, die minister se woordvoerder, onwaar.
- Die Burger