ANCYL vertrap AfriForum-memorandum
2010-03-19 15:07
Johannesburg – Verteenwoordigers van AfriForum-jeug het Vrydagoggend van Newtown in Johannesburg na die ANC-jeugliga se kantore gegaan om ‘n memorandum af te lewer.
Die memorandum is in die vorm van ‘n brief en is aan die jeugliga se president Julius Malema geadresseer.
Dele daarvan het gelees: “As jy nie bereid is om jou aksies te staak nie, het ons geen ander opsie as om hierdie kwessie verder te neem deur die verskeie demokratiese forums wat aan ons beskikbaar gestel is nie. Dit sluit in die reg om te betoog, sowel as die regstelsel.”
AfriForum-jeug het ook gesê dat vryheid van spraak gekoester moet word, maar volgens die wet is haatspraak onaanvaarbaar en moet dit verbied word.
Hulle het ook gesê dat Malema te ver gegaan het en dat dit tyd was om hom te stop.
AfriForum het ‘n lys opgestel van 1 600 mense wat in die laaste paar jaar op plase in Suid-Afrika vermoor is om aan te dui dat Malema se onlangse uitlating van “maak die boer dood” gevolge kan hê.
'n Klap in die gesig:
Die ANC-jeugliga het geweier om die memorandum te aanvaar.
Ernst Roets, AfriForum-jeug se nasionale voorsitter, het gesê dat die ANC se Luthuli-huis deur polisie omring was en dat hulle toegang geweier is.
“Amptenare en polisie het vir ons gesê dat ons nie daar toegelaat word nie en toe ons sê dat ons net ‘n lys van plaasmoord-slagoffers en ‘n memorandum wil oorhandig, het hulle dit gevat, dit op die sypaadjie gegooi en letterlik daarop getrap,” het Roets gesê.
Roets het gesê dat hulle die optrede van die ANC-jeugliga se amptenare en die polisie wat op die memorandum getrap het as ‘n klap in die gesig sien.
Nietemin het hy gesê dat dit nie die einde van die vedtog is nie en dat AfriForum vir Malema in die hof sal sien.
Sapa