ANCYL-verhoor uitgestel
2011-09-13 21:55
Johannesburg – Die dissiplinêre verhoor van die president van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, vier ander amptenare en Floyd Shivambu, woordvoerder, is tot Donderdag uitgestel, het Keith Khoza, ANC-woordvoerder, gesê.
“Die verhoor hang af van die beskikbaarheid van alle partye,” het Khoza Dinsdag gesê.
“Daar is regsverteenwoordigers en ander mense wat dalk ander verpligtinge het. Hierdie was nie van die begin af die plan nie,” het hy gesê.
Die verhoor vind in Kibler Park, suid van Johannesburg, plaas.
Malema word saam met Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Ronald Lamola, adjunkpresident, Pule Mabe, tesourier-generaal, en Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal verhoor. Slotbetoë sou Dinsdag gelewer word.
Hulle word daarvan aangekla dat hulle “ingestorm” het by ‘n vergadering van ANC-leierskap.
Shivambu en Magaqa sal ook verhoor word oor ander kwessies, indien daar tyd is.
Malema sal ook onafhanklik verder verhoor word.
Volgens Khoza het die verhoor sonder ontwrigtinge voortgegaan by die Klipriviersberg Ontspanningsentrum.
‘n Sapa-fotograaf het vroeër gesê metropolisiebeamptes was op die toneel en ‘n klein groep joernaliste is toegelaat om in ‘n nabygeleë park te wag.
Daar was ‘n paar mense in gewone klere by die gebou, maar geen groot groep ondersteuners nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA