ANCYL-optog verloop sonder voorval
2011-10-28 08:00
Maryna Louw en Jacques Steenkamp
Johannesburg – Die ANC-jeugliga se optog Donderdag vir ekonomiese bevryding het teen alle verwagtinge sonder enige ernstige voorvalle verloop.
Minder as ’n duisend betogers het Donderdagoggend by die Beyers Naudé-plein in die Johannesburgse middestad opgedaag.
Supt. Edna Mamonyane, metropolisiewoordvoerder, het gesê dié getal het laatmiddag aangegroei tot sowat 10 000. Dié groot groep singende en dansende betogers het in Oxfordweg in Sandton afgestroom op pad na die Johannesburgse aandelebeurs. Mamonyane sê hulle het “blokke getel” en so by dié syfer uitgekom.
Daar was enkele voorvalle van betogers wat rommel oor huismure langs die pad gegooi en inwoners gedreig het met “ons gaan terug kom vir jul besittings”.
Die meerderheid van die skare, onder leiding van Julius Malema, ANC-jeugleier, het egter in ’n positiewe gees betoog.
Malema, in ’n geel ANC-hemp en swart beret, het saam met ander lede van die ANC-jeugliga se leierskorps die voortou geneem.
In ’n stadium het ’n jolige Malema op die jeugliga se klankstelsel-vragmotor gery, terwyl betogers, sommige reeds flou en naar van die hitte, die 20 km na Sandton te voet afgelê het.
“Malema het ’n fout gemaak om op die vragmotor te klim, want ’n mens behoort te lei deur ’n voorbeeld te stel en nou gaan baie mense hom kritiseer,” het ’n duidelik ontstelde betoger aan Volksblad gesê.
Die eerste griefskrif is aan die Kamer van Mynwese oorhandig waarin die jeugliga onder meer beheer eis van 60% van Suid-Afrika se myne.
Bheki Sibiya, uitvoerende hoof, het gesê hulle is bereid om met die jeugliga te onderhandel, maar die nasionalisering van myne is nie die antwoord nie, omdat dit die land se ekonomie en sy mense sal benadeel.
Die Kamer van Mynwese het drie maande gelede persoonlik aan Floyd Shivambu, jeugliga-woordvoerder, ’n uitnodiging oorhandig om te onderhandel.
Ná nog ’n uitnodiging sowat vyf weke gelede het die jeugliga egter steeds nie daarop gereageer nie.
Teen laatmiddag is ’n griefskrif aan die Johannesburg Sekuriteitebeurs (JSE) oorhandig.
“Ons eise aan hulle is baie duidelik en hulle moet so gou moontlik antwoord.
“Ons hoop hulle sal ons eise respekteer,” het Malema aan die skare gesê.
Tot kort voor die ANC-jeugliga opgedaag het, was die strate rondom die JSE in Sandton stil, berig Louise Ferreira.
Tydelike versperrings van staalhekke en doringdraad is plek-plek opgerig om geboue te beskerm en verskeie werknemers het effe senuagtig rondgestaan terwyl hulle vir die optog gewag het.
Twee mans in ANC-hemde, wat hulself net as lede van die jeugliga se Wes-Kaapse leierskorps geïdentifiseer het, het in ’n stadium by Caffè della Salute in die deftige Nelson Mandela Square gekuier. Die een man, met ’n Guess-horlosie om sy pols, het gesê hulle het die oggend van Kaapstad af gevlieg en direk van die lughawe na Sandton gegaan omdat hulle gedink het die optog sal reeds daar wees.
Mamonyane het teen Donderdagaand gesê die metropolisie is tevrede met die optog, aangesien geen skade aangerig is nie en niemand in hegtenis geneem is nie.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het geen klagtes van geweld ontvang nie en hulle het ook niemand in hegtenis geneem nie.
Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê hulle is nog besig om die betogers na Pretoria te volg, maar sy is bewus van minstens sewe mense wat vir ligte beserings en veral moegheid behandel is. Een vrou het naby die M1-brug in Oxfordweg omgeval en begin opbring voordat sy deur paramedici behandel is. Sy is met ’n ambulans daar weg.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad