ANCYL ontken verbintenis met omstrede webwerf
2012-11-09 10:29
Johannesburg – Die ANC-jeugliga het Vrydag ontken dat hy verantwoordelik is vir 'n webwerf wat vra vir 'n verandering in leierskap in die ANC.
"Nes die meeste Suid-Afrikaners, het die ANC-jeugliga van die media gehoor van die Forces of Change-webwerf en sy Twitter-rekening SaveANC," het Khusela Sangoni-Khawe, woordvoerder van die ANC-jeugliga, gesê.
Die webwerf, wat Woensdag bekendgestel is, het vyf redes gegee waarom verandering nodig is.
"Ons benodig 'n verandering in leierskap omdat Suid-Afrikaners nie vertroue het in die leierskap van president Zuma nie," lui 'n boodskap op die webwerf.
"Ons benodig 'n leierskap wat die ANC sal lei na volhoubare verandering; na 'n doel soos wat in die Vryheidsmanifes uiteengesit is."
Dit is nie duidelik wie die webwerf gestig het nie.
Sangoni-Khawe het gesê die ANCYL veroordeel die webwerf as 'n "gesiglose veldtog".
Die webwerf se voorkeur-kandidate vir die ANC se topses-amptenare, is Kgalema Motlanthe vir president, Mathews Phosa vir adjunkpresident, Thandi Modise vir nasionale voorsitter, Fikile Mbalula vir sekretaris-generaal, Thenjiwe Mthinthso vir adjunk- sekretaris-generaal en Tokyo Sexwale vir tesourier-generaal.
Die ANC se nasionale verkiesingskonferensie word in Desember in Mangaung gehou, wanneer Zuma hom vir 'n tweede termyn verkiesbaar sal stel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA