ANCYL ontken Malema se verkeersvoorval
2009-11-03 08:34
Pretoria – Geen ondersoek sal gelas word om vas te stel of Julius Malema, ANC-jeugligaleier, politieke inmenging gebruik het om verkeersbeamptes van Limpopo af te skrik nie.
Ntau Letebele, departementshoof van paaie en vervoer in Limpopo, het gister ontken senior staatsamptenare is gebruik om Malema te help, of dat hy self daarby betrokke was.
“Dit het nooit gebeur nie, so waarom sal ’n mens dan ’n dissiplinêre ondersoek wil instel?” het hy gesê.
City Press, Volksblad se susterskoerant, het eergister berig Malema het Pinky Kekana, LUR vir vervoer, glo op 14 Oktober gebel toe verkeersbeamptes hom in Seshego buite Polokwane voorgekeer het.
Malema is afgetrek, omdat hy na bewering die spoedperk oorskry het.
Volgens verkeersbeamptes op die toneel het Malema se bestuurder in die middel van die pad gestop, waarna Malema en ander passasiers uitgeklim en die verkeersbeamptes uitgetrap het.
“Wie dink julle is julle? Besef julle nie ek is Julius, president van die jeugliga, nie?” het Malema glo vir verkeersbeamptes gevra, het City Press berig.
Malema het glo ANC-leiers en regeringslui daarna gebel om die verkeersbeamptes te “dissiplineer”.
Kekana het ná Malema se oproep glo vir Letebele gebel wat volgens City Press vir Walter Sathekge, verkeersbestuurder, beveel het om na die toneel te gaan.
Sathekge het glo op die toneel gevra verkeersbeamptes moet verduidelik wat gebeur het.
Hulle is na bewering die volgende dag beveel om skriftelik oor die voorval verslag te doen.
Volgens die departement bestaan geen rekord van die voorval nie.
Die nege verkeersbeamptes vrees nou glo dat hulle vervolg sal word.
Intussen is vasgestel Malema het steeds nie 15 uitstaande verkeersboetes betaal nie.
Die eerste verkeersoortreding was op 21 Maart 2007 aangeteken, terwyl hy op 6 September twee boetes gekry het.
Malema het tot nou toe ook versuim om ’n boete van R1 100 te betaal.
Hy het dit op 21 September verlede jaar gekry toe sy swart Mercedes-Benz C350 teen 169 km/h op die N1-suid naby Johannesburg gery het.
Betroubaar is verneem Malema skuld R5 050 in uitstaande verkeersboetes.
Floyd Shivambu, ANC-jeugligawoordvoerder, het gister ontken Malema het politici gebel of dat verkeersbeamptes hom afgetrek het.
“Dit is nonsens. Kan ek jou asseblief vra om my nie oor dié simpel ding te bel nie. Jy misbruik my telefoon.
“Ek dink ons het klaar gepraat,” het Shivambu gesê en die oproep beëindig.
- Volksblad