ANCYL moet opdok vir uitspattige hotelverblyf
2011-10-12 10:50
Johannesburg – Die Johannesburgse hooggeregshof het die ANC-jeugliga (ANCYL) beveel om ‘n hotelrekening van R365 000 te betaal, het die webtuiste Times Live Woensdag berig.
Die hof het Dinsdag die liga beveel om die agterstallige rekening van R364 850 met rente asook die regskostes te betaal.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANCYL, sê hy was onbewus van die hofbevel, maar hy belowe die organisasie sal die agterstallige rekening vereffen.
“Kyk, as daar agterstallige geld is wat ons moet betaal, sal ons dit definitief doen,” het hy aan Times Live gesê.
Luidens die berig het meer as 70 afgevaardigdes van die ANCYL van 16 Junie tot 20 Junie, teen R950 per nag, in die Rosebank Crowne Plaza in Johannesburg deurgebring.
Die ANCYL het destyds gesê die rekening sal betaal word wanneer die afgevaardigdes op 20 June uitteken, maar die rekening is nooit vereffen nie.
Sekere afgevaardigdes het tydens hul besoek kamerdiens en duur ontbyte bestel.
Twee weke nadat die afgevaardigdes uitgeteken het, het die ANCYL ‘n brief aan die hotel gestuur en gesê die organisasie sal die “agterstallige bedrag so gou moontlik vereffen.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA