ANCYL mag nie nagwaak hou
2011-10-25 21:09
Johannesburg – Die Tshwane-metropolisie het nie toestemming gegee vir die ANC-Jeugliga om Vrydag ‘n nagwaak buite die Uniegebou in Pretoria te hou nie.
Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê dít is Dinsdag besluit by ‘n vergadering tussen die organiseerders van die optog, die metropolisie, die Suid-Afrikaanse polisiediens, Tshwane-nooddienste en die presidensie.
“Die presidensie het die versoek van die liga om Donderdagnag ‘n nagwaak by die Uniegebou te hou, verwerp en gesê die Uniegebou is ‘n nasionale sleutelpunt,” het Tleane in ‘n verklaring gesê.
Toestemming is wel gegee vir die ANCYL om Vrydagoggend ‘n optog na die Uniegebou te hou om ‘n griefskrif aan die presidensie te oorhandig.
Die ANCYL het aanvanklik beplan om sy “ekonomiese vryheid”-optog Donderdag van Johannesburg tot Pretoria te hou om die toestand van die armes te onderstreep, ‘n nagwaak te hou en die griefskrif Vrydagoggend te oorhandig.
Floyd Shivambu, ANCYL-woordvoerder, was nie Dinsdagaand beskikbaar vir kommentaar nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA