ANCYL-lid in hof vir aanranding
2011-12-20 12:04
Johannesburg – ‘n Lid van die ANC-Jeugliga wat na bewering ‘n joernalis oor die kop geslaan het met ‘n baksteen tydens ‘n gestoei oor vervalste stemkaarte sal Dinsdag in die Polokwane-landdroshof verskyn.
Die man, wat na bewering die vryskut-joernalis Chester Makana van Limpopo aangerand het, het homself Sondag aan die polisie oorhandig nadat hy uitgevind het die polisie is op soek na hom, het brig. Hangwani Mulaudzi, polisiewoordvoerder, gesê.
“Hy het die lewe vir homself maklik gemaak. Hy het na die polisiekantoor gekom met sy regsverteenwoordiger,” het hy gesê.
Volgens Mulaudzi het die man reeds Maandag in die hof verskyn op aanklagte van aanranding en opsetlike saakbeskadiging, maar sy regsverteenwoordiger het vir uitstel gevra om ander kwessies uit te sorteer.
Makana is met ‘n baksteen geslaan toe hy gegaan het om bewerings van duplikaat-stemkaarte wat by ‘n drukker gemaak is te ondersoek, kort voordat die provinsiale konferensie van die ANC die top vyf leiers sou verkies.
Volgens hom het twee mans uit die winkel gestorm, sy kamera gegryp en die geheuekaart verwoes voordat hulle hom gejaag het. Hy het na ‘n polisiekantoor gegaan en ‘n klag teen sy aanvallers aanhangig gemaak.
Makana het Dinsdag gesê hy voel beter, nadat hy Maandag inmekaargesak het buite die konferensie op by die Universiteit van Limpopo se Turfloop-kampus naby Polokwane.
Makana is deur paramedici bygestaan en na ‘n plaaslike hospitaal geneem. Hy het gesê hy het aan migraine-hoofpyne gely, wat meer intens geraak het kort voor hy Maandag inmekaargesak het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA