ANCYL aanvaar Mbalula se verskoning
2011-10-31 23:00
Johannesburg – Die ANC-Jeugliga het Maandag Fikile Mbalula, minister van sport, se verskoning aanvaar in die nadraai van berigte oor die naweek wat besonderhede oor sy sekslewe onthul het.
Die liga het gesê hul vertroue in en respek vir Mbalula is oor tyd gebou en sal nooit kwyn weens die “ongelukkige” voorval nie.
“Kameraad Mbalula is ongetwyfeld een van die beste leiers in die ANC, ‘n goeie mobiliseerder en organiseerder vir progressiewe verandering. [Hy] gee sy energie en ‘oemf’ in elke verantwoordelikheid wat aan hom gegee word,” het Floyd Shivambu, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Shivambu het gesê Mbalula se “nederigheid en moed” in die aanvaarding dat hy verkeerd gedoen en in die openbaar aan sy familie, die ANC en die land om verskoning gevra het, moet gevier word.
Die liga het gesê dit hoop Suid-Afrikaners sal Mbalula se verskoning aanvaar, pleks van om onregverdig te oordeel.
“Laat ons Mbalula oordeel aan sy werk en nie aan die feilbaarheid van sy wese nie, wat hy aanvaar en voor om verskoning gevra het.”
Mbalula het Sondag gevra dat sy privaatheid gerespekteer moet word.
“Ek het met my familie gekonsulteer en hulle van inligting oor en verduidelikings van my dade en weglatings rakende die bewerings wat in die media is, voorsien,” het hy Sondag in ‘n verklaring gesê.
Koerante het wyd en op grafiese wyse berig dat Mbalula die slagoffer van afpersing was deur ‘n vrou met wie hy ‘n buite-egtelike verhouding gehad het en wat beweer hy het haar swanger gemaak.
“Ek het aan my familie, en veral my vrou, om verskoning gevra, aangesien ek van beter moes geweet het.
“Ek probeer al die afgelope drie maande om op ‘n private wyse hierdie kwessie te hanteer, maar toe dit duidelik word dat hierdie vrou bereid is om my af te pers vir geld, het ek besluit om alle kommunikasie met haar te staak, aangesien ek nie bereid was om afgepers te word nie.”
Mbalula het gesê bewerings deur die vrou, wat in berigte as Joyce Omphemetse Molamu geïdentifiseer is, dat sy swanger is, “is steeds nie aan my bewys nie”.
Mbalula het Saterdag sonder sukses die Hooggeregshof in Johannesburg genader om te keer dat die besonderhede van die verhouding gepubliseer word.
Hy het bewus geword dat dit ‘n moontlikheid is toe City Press vrae aan hom oor die kwessie gestuur het.
Sy hofaansoek sou eers teen 18:00 aangehoor kon word – die koerant se druktyd.
In sy verklaring het Mbalula gesê hy is spyt hy het sy familie blootgestel aan die bewerings en spekulasie in die media.
“Ek vra om verskoning aan die Suid-Afrikaanse samelewing, die ANC en die Suid-Afrikaanse regering. Van nou af sal hierdie kwessie in ‘n private wyse hanteer word deur my familie.
“Ons vra dus die media en almal anders om die familie in hierdie stadium tyd en ruimte te gun.”
Hy het ook besluit om nie enige klagtes teen Molamu vir “afpersing” aanhangig te maak nie.
Luidens die berigte het Molamu glo R40 000 by Mbalula geëis.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA